Found this in Beeld this morning. I have not found an English article so far.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/O ... k-20121121
’n Ouma van Boksburg word in ’n hospitaal in Pretoria behandel nadat sy Sondag op ’n plaas buite Bela-Bela (Warmbad) deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is.
Sannie Haywood (78) het gisteroggend ’n operasie aan haar regtergroottoon in die Muelmed-hospitaal ondergaan. Sy word sedert Sondag in die hoësorgeenheid behandel.
Magda Botha, haar dogter, het gesê haar ma het by hulle op die plaas gekuier. Hulle het Sondag omstreeks 16:00 in die sitkamer gesit en gesels.
“My ma het gesê: ‘Wat steek my nou so?’.” Net daarna het Botha die slang verby die rusbank sien seil. “Ek het dadelik my bene bo-op die bank getrek. Ons het groot geskrik, maar ons het nie dadelik besef my ma is gepik nie.”
Botha se man, Piet, het die slang naby die TV-kas gesien. Hy het dit met ’n graaf doodgekap.
“My ma het toe weer gesê: ‘Ek is gepik,’” het Botha vertel. Hulle het onmiddellik met haar na ’n private hospitaal in Bela-Bela, 15 km van die plaas, gejaag. Hulle het die dooie slang in ’n boks saamgevat.
Martie Jonker, ’n paramedikus van Tromar-ambulansdienste, is ontbied en hulle het Haywood per ambulans na Pretoria geneem.
André Lourens, ’n slangkenner van Pretoria, het hulle by die Muelmed-hospitaal ingewag. Hy het die slang as ’n Mosambiekse spoegkobra geïdentifiseer.
Lourens het gesê hy het aanbeveel dat Haywood nie met teengif behandel word nie omdat dit mense baie siek kan maak. Hy het gesê dit het baie gehelp dat Haywood vinnig by die hospitaal aangekom het.
Mosambiekse spoegkobras se gif is sitotoksies. Dit tas weefsel aan. Lourens het gesê die slang was 56 cm lank. “Dit was ’n klein slang en dit raak die hoeveelheid gif wat hy vervaardig.”
Hy het mense in Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal gewaarsku om veral in die warm somermaande op die uitkyk te wees na slange.
Botha het gesê dit gaan goed met haar ma. Van die dooie weefsel aan haar toon is gister afgeskraap tydens die operasie. Sy sal vir minstens nog ’n week in die hospitaal moet bly.
- Beeld het in Desember berig oor Mikayla Robbertse (5) van Lephalale (Ellisras) wat ook deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is. Sy het ’n deel van haar linkerhand verloor weens die gif wat weefsel vernietig het.